Wat is profesie? Wat is tale en uitleg van tale?
1 Kor 14:1 -- streef liefde na. En wees ywerig vir geestelike dinge, maar liewer om te profeteer. :2 Want hy wat in ‘n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot Yahweh; want niemand hoor dit nie, maar in gees spreek hy geheime. :3 Maar hy wat profeteer, spreek tot mense vir opbouing en vertroosting en gerusstellig. :4 Hy wat in ‘n taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die ekklesia. :9 Net so julle ook, as julle deur die taal nie ‘n verstaanbare uitdrukking gee nie, hoe sal ‘n mens weet wat gespreek word? Want julle sal in die wind praat.
Die uitspraak van 1 Korinthiers 14 moet gesien word teen die agtergrond van nuwe Christen gemeentes, onervare en ongeleerd in dinge wat op daardie stadium nog nie volledig deur God aan die apostels, en veral aan Paulus, geopenbaar is nie. Die OT Kanon was nie eers vryelik beskikbaar nie, en die NT Kanon was grotendeels nog ongeskryf, dus het die gemeentes wat in absolute “kleuterskoene” was, dringend die leiding van die Heilige Gees nodig gehad. En niks meer uitmuntend en voordelig as profesie om hierdie leiding te verskaf nie. Die Christengemeentes van vandag het die woord, die Kanon, plus die insig en wysheid van vertolking wat kom deur die gawe van lering deur leiding van die Heilige Gees.
Die gawe wat vandag die mees prominent moet wees, veral in volwasse gemeentes, is LERING. En dit was vir my oor baie opmerklik, oor baie jare, dat daar in die algemeen in SR ‘n minagting jeens die gawe van lering was. Sowat agt jaar gelede was ek ooggetuie toe ‘n persoon uit SR weggejaag is deur ‘n profeet, met die woorde “Ons wil nie dat jy ons kom leer nie, ons ken ons Bybels.” Sowat twee weke gelede het ‘n persoon my in ‘n privaat PN op my Facebookblad dieselfde woorde toegesnou – “Ons wil nie dat jy ons in SR kom leer nie, ons ken ons Bybels.”
‘n Uitstaande kenmerk van die uitstorting van die Heilige Gees op pinksterdag was die spreking in vreemde tale. Die doel was skynbaar om feesgangers in Jerusalem vanuit verskillende werelddele in hul eie taal te bereik, en hulle te oortuig dat die herstel van die aardse troon van Dawid, met die Messias as heerser, op hande was. Mettertyd het die Jode egter hul harte verhard, en die genade-dispensasie vir die Jode is opgeskort totdat die volheid van die nasies (heidene) sou inkom. Dit is die tyd van parentese waarin ons steeds vandag leef.
In Paulus se lerings sou profesie ten doel hê om die gemeentes te bedien en voor te berei vir die ontplooiing van die evangelie, en lering van die gemeentes tot volwassenheid. Tale en vertolking daarvan daarenteen, en die gepaardgaande wonders en tekens, sou dus ‘n terugblik werp op die uitstorting van die Heilige Gees, en die belofte van die wederkoms van die Messias wat dit inhou.
:10 Daar is wie weet hoeveel spesies van tale in die wêreld, en geeneen daarvan is sonder klank nie. :11 As ek dan nie die belang van die klank waarneem nie, sal ek vir die spreker ‘n barbaar wees, en die spreker sal vir my ‘n barbaar wees.
{‘n Meer logiese vertolking van verse 10 en 11 sou straks die volgende wees - :10 Daar is wie weet hoeveel spesies van tale in die wêreld, en julle is geeneen sonder verstand nie. :11 As ek dan nie die betekenis van die klank waarneem nie, sal ek vir die spreker ‘n barbaar wees, en die spreker sal vir my ‘n barbaar wees.}
Dit wil voorkom of die konteks so ‘n vertolking vereis. Die verandering van die oorspronklike woord “aphonon” na “aphronon” sou die betekenis verander van “sonder klank” na “sonder verstand”.
:12 So julle ook, terwyl julle yweraars is vir geestelike dinge, soek daarna om oorvloedig te wees tot opbouiing van die ekklesia. :13 Daarom moet hy wat in ‘n taal spreek, bid dat hy dit kan vertolk. :14 Want as ek in ‘n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar. :15 Wat dan? Ek sal in die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal in die gees musiek maak, maar ek sal ook met die verstand speel. :16 Anders, as jy in die gees seen, hoe sal hy wat die plek van ‘n eenvoudige persoon inneem, “Amen” verklaar op jou danksegging, aangesien hy nie weet wat jy sê nie? :17 Want jy dank wel reg, maar die ander word nie gestig nie. :18 Ek dank Yahweh dat ek meer in ‘n taal spreek as julle almal. :19 Maar, in die ekklesia, wil ek vyf woorde deur/met my verstand spreek, dat ek ook ander kan onderrig, of tienduisend woorde in ‘n taal? 21 In die wet is geskrywe dat – In veskillende tale en deur verskillende lippe sal ek tot hierdie volk spreek, en ook so sal hulle na My nie luister nie, sê Yahweh.
Die gawes is gegee vir onderlinge en gemeenskaplike opbouing en stigting, en nie vir vermaak en ydele vertoon nie. Die misbruik van die gawe van tale was ‘n duidelike aanduiding van die kinderagtige onvolwassenheid van die Korintiers, want hulle was gretig om die besit van die gawe ten toon te stel, sonder inagneming van die stigting en opbouing van andere. ‘n Vreemde taal is slegs ‘n gebrabbel van geluide vir die wat die taal nie verstaan nie. En selfs al sou dit vertaal word, van watter baat sou dit wees om so ‘n omslagtige metode te volg, as dieselfde dinge ewe gemaklik sonder die nodigheid van vertolking vertel kon word? Dit was nie die goddelike doel met die skenk van hierdie gawe nie. Op Pinksterdag is die gawe toegepas op ‘n nuttige, rasionele manier, want dit was ‘n universele, alomverstaanbare teken dat Jehova met Sy volk gespreek het.
Wat meer is, hierdie gawe is nie vir gelowiges nie, of selfs om ongelowiges te bereik nie, want daar staan geskrywe “ --en ook so sal hulle na My nie luister nie - -“ (14:21, Jes 28:12). Dit sou sekerlik veel beter wees om vyf lerende woorde in ‘n verstaanbare taal te spreek, as ‘n menigte woorde in ‘n onverstaanbare taal, selfs as dit ten doel sou hê om ‘n geestelike gawe te vertoon. Dieselfde argument is selfs met groter dringendheid van toepassing op ‘n vreemde taal wat geeneen verstaan nie, in ‘n kerk-ritueel. Dit mag indrukwekkend in sensasioneel wees, maar dit slaag hoegenaamd nie daarin om die heiliges te stig en te bou nie.
:22 Sodat tale ‘n teken is, nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges. Maar profesie is nie vir die ongelowiges nie, maar vir gelowiges. :23 As die hele ekklesia dan saamkom in dieselfde plek, en hulle sou almal in tale spreek, en daar kom eenvoudige persone of ongelowiges binne, sal hulle nie verklaar dat julle mal is nie?
Paulus se hoë dunk van die gawe van profesie is gegrond op die feit dat dit die hoof medium was om die heiliges tot volwassenheid te bring, en dit was sy dringende begeerte dat hulle tot volwassenheid in die gees sou kom. Die gawe van lering, die aanbieding van die geskrewe woord, het dus nou die plek ingeneem van die gawe van profesie, aangesien God Sy wil in Sy woord, die Kanon, geopenbaar en beskikbaar gestel het.
:24 Maar as almal profeteer en daar ‘n ongelowige of ‘n eenvoudige persoon binnekom, dan word hy deur almal blootgestel, deur almal ondersoek. :25 Die verborge dinge van sy hart word waarneembaar, en so sal hy op sy aangesig val, Yahweh aanbid, en berig dat Yahweh werklik onder julle is. :26 Wat is dit dan, broeders? Wanneer julle saamkom, het elkeen van julle ‘n psalm, ‘n lering, ‘n taal, ‘n openbaring, ‘n vertaling. Laat alles tot opbouing geskied.
Voorspelling of toekomsvoorspelling is nie noodwendig betrokke in die gawe van profesie nie. Die profeet, in Bybelse terme, is die mondstuk of segsman van God. Hy mag spreek van die verlede, die hede, of die toekoms. Voorspelling is bykomstig, toevallig, en nie ‘n noodsaaklike bestanddeel van profesie nie. Voordat die Kanon voltooi is, was dit noodsaaklik dat die heiliges ‘n manier sou hê waarop hulle God se wil en gedagtes kon verneem. Die voltooide skrifte, die Kanon, voldoen ten volle aan daardie behoefte. Wat ‘n skrille kontras sou daar wees tussen ‘n vergadering waartydens almal lering aangaande God se wil ordelik, nugter en verstaanbaar uit Sy woord aanbied, elkeen om die beurt, sodat almal teenwoordig gestig en opgebou word, en ‘n vergadering waarin elkeen slegs wedywer om ‘n geleentheid om ‘n gawe te vertoon wat van geen nut vir sy medegelowige is nie! Selfs ongelowiges het genoeg verstand om te sien hoe dwaas dit is om in die lug in te praat, en kan ook die suiwer lering van God se leraars goed begryp.
:27 Buitendien, as enigiemand in ‘n taal spreek, laat dit dan wees twee of op die meeste drie, en in dele; en laat een dit vertaal. :28 Maar as daar geen vertaler is nie, laat hy in die ekklesia swyg, maar laat hy met homself en met Yahweh spreek.
Ten einde die kinderagtige begeerte van die Korintiers om in onbekende tale te spreek in te perk, lê die apostel vaste reëls neer om die beoefening van hierdie gawe te reguleer. Dit mag nie beoefen word tensy daar ‘n vertaler teenwoordig is nie, sodat die boodskap nie in die vergadering verlore gaan nie. Nie meer as twee of drie sou mekaar opvolg in die spreek van onbekende tale nie, en hulle moes in paaiemente spreek, dus tussenposes laat, om geleentheid te bied vir vertaling. As niemand kon vertaal nie, moes hulle in die gemeente swyg.
Die vreemde taal sou natuurlik ook die vorm van ‘n gesprek, lering of mededeling aanneem, met duidelike gespreksvloei en intonasie, gereed vir vertaling. Nie ‘n onsinnige gebrabbel, en die eindelose herhaling van ‘n hokus-pokus rympie wat van Appeldoorn tot Mirteboom nageaap word nie.
:29 En wat profete betref, laat twee of drie spreek, en laat die ander dit onderskei. :30 Maar as dit geopenbaar word aan ‘n ander wat bysit, laat die eerste swyg, :31 want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal kan leer en almal vertroos kan word. :32 En die geestelike dinge van die profete is aan die profete onderworpe.
Profesie moes ook binne perke beoefen word. Dit was nie veronderstel om soos die turbulente, ongebreidelde tirades van die godsprake van die vals gode te wees waaraan die Korintiers gewoond was nie, gode wie se gees buite hul beheer was nie, maar vreedsame, onderskeibare redevoering, twee of drie om die beurt, maar bereid om toe te gee wanneer ‘n ander ‘n openbaring ontvang. Die geeste van die profete van die Griekse gode was nie aan hulle onderworpe nie. Hulle het hulself tot raserny opgewerk, en geskuim om die mond. Hulle was deur demoon-geeste beheer eerder as deur die Gees van God.
:34 Laat julle vroue in die ekklesias swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar laat hulle onderdanig wees, soos die wet ook sê. :37 As iemand meen dat hy ‘n profeet of geestelik is, laat hy herken dat wat ek aan julle skrywe, ‘n gebod van Yahweh is. :38 Maar as iemand onkundig is, laat hom onkundig bly!
“Maar as iemand onkundig is, laat hom onkundig bly!” is Paulus se verontwaardigde protes teen die wat waag om sy woorde in twyfel te trek. Sy troefkaart – “As iemand meen dat hy ‘n profeet of geestelik is, laat hy herken dat wat ek aan julle skrywe, ‘n gebod van Yahweh is.”
1 Thes 5:20 Verag nie profesieë nie. :21 Toets alles; behou die goeie.
Hierdie oproepe word deur Paulus gedoen teen die agtergrond van die stelselmatige veranderende karakter van sy bedieninge. Sy bedieninge het met verloop van tyd meer geestelik geword. Die gawe van profesie was veral aangepas om in die behoeftes van die heiliges te voorsien totdat God se volledige openbaring (Sy woord) gegee was (1 Kor 12:10, 13:8). Maar selfs toe moes die profesie getoets word, en slegs die wat in lyn was met die ideaal waarheen God in die gemeentes gewerk het, was permanent. Van die ander moes afstand gedoen word.
Groete, Latter
|