Fruehsonne.de

Community - Forum / globaler Erfahrungsaustausch
Aktuelle Zeit: Freitag 29. März 2024, 01:51

Alle Zeiten sind UTC + 1 Stunde [ Sommerzeit ]




Ein neues Thema erstellen Auf das Thema antworten  [ 2 Beiträge ] 
Autor Nachricht
 Betreff des Beitrags: Ope brief aan Fanie
Ungelesener BeitragVerfasst: Donnerstag 20. Juni 2013, 19:28 
Offline
Benutzeravatar

Registriert: Montag 10. Juni 2013, 18:47
Beiträge: 34
Fanie, ek is jammer as ek jou nou gaan teleurstel, maar ek dink ek het vir eers genoeg uitgewy oor wat ek sien as die dwalings in Spade Reen. Ek sal egter steeds voortgaan en vrae stel, en hier en daar kommentaar lewer soos daar vrae opduik.

Daar was ‘n stadium dat ek werklik geding het dit is die moeite werd om te veg vir die behoud van Spade Reen in belang van lidmate en oud-lidmate. Hoe meer ek die situasie ontleed het, en hoe meer ek die raad en menings van vriende in ag neem, hoe meer kom ek tot die slotsom dat SR soveel bagasie saamdra dat ‘n mens nie die albatros afgeskud gaan kry nie.

Ek neem my eie geval as voorbeeld. Ek is “deur God” uit die dienste en uit SR weggejaag met vloeke en doodsdreigemente. Ek is dus “deur God” my konstitusionele reg ontneem om ‘n volwaardige lidmaat van SR te bly, ‘n lidmaat wie se ledegelde in die vorm van “tiendes” ten volle opbetaal was. (Ek kan egter nie waarborg dat al daardie ledegelde getrou in SR se bankrekening beland het nie, want ek het dikwels kontant betaal, en nooit ‘n kwitansie ontvang nie.)

Nou ja, ek het per brief na die profeet se hoofprofeet ge-appelleer betreffende die “uitsettingsbevel”. Die hoofprofeet het my nie per brief geantwoord nie, maar van die platform af die bestrawwing en beskuldigings van my lewe gegee vir my grootmanskap en laster teen die Heilige Gees deur Sy “gesalfde aan te raak.”

Ek het toe na die hoof-profeet se hoof-profeet, dus die hoof-hoof-profeet (seker die pous) ge-appelleer. Dis nou al baie jare. Sy antwoord het seker met ‘n posstaking in die pos verlore gegaan. Ek wag vandag nog angstig op ‘n uitnodiging na SR se “versoeningsforum” (Ek wag darem nie regtig nie, dis net ‘n grappie).

Wat staan my nou te doen as ek SR voor ‘n Onafhanklike Waarheids- en Versoeningsforum daag? Eerstens moet ek dan bewys dat God my onbillik, onregverdig, onregmatig uit die kerk uitgejaag het.

Eerstens kan ek nie bewys dat God my uitgejaag het nie, want ek weet Hy het my nie uitgejaag nie.

Tweedens, deur te bewys dat God my nie uitgejaag het nie, bewys ek dat die profeet gelieg het en dus ‘n vals profeet is. Dit hoef ek nie te bewys nie. Ek weet dit alreeds, en as ander lidmate steeds wil glo dat hy ‘n ware profeet is, kan ek hulle nie dwing om te glo hy is vals nie.

Derdens, aangesien ek dan nou lankal weet dat die profeet vals is, wat soek ek nog in sy kerk? Sy profesie? Sy lering? Sy sondebelydenis voor ‘n getuie? My tiendegeld vir hom gee sodat hy kan voortgaan om vir ander mense vals te profeteer?

Ek dink nie so nie.

Wat van Duitsland, wat van Europa?

Die gevoel is skynbaar dat daar sekere mense in gesagsposisies is wat nie bo verdenking staan nie, en wat nog ondersoek moet word. Daar is ook bewerings dat van die bestuur Jatniel agente is wat nie die belange van die Europese gemeentes eerste stel nie. Ek stel dus voor dat die mense daar gemeenteverkiesings hou en mense verkies wat die Europese werk goedgesind is. Hulle kan selfs hul eie konstitusie opstel en die juk van Jatniel afskud.

Ek raai hulle steeds aan om deeglik te besin oor die lewensvatbaarheid van die geloofshuise. Dit is na my mening ‘n immorele sisteem wat nie sonder elitisme, of sonder slawerny, dwingelandy en serfdom kan voortbestaan nie

Wat van die Kleurlinggemeentes?

Daar is skynbaar steeds mense wat voel dat die Kleurlinggemeentes se fondse nie verantwoordelik bestuur word nie, en dat daar in die verlede bedrog gepleeg is wat nog ondersoek moet word.

Daar word na bewering steeds teen die Kleurlinggemeentes gediskrimineer, deurdat hul lidmate nie as profete aangestel word nie, en dat daar steeds nie Kleurlingwerkers oor blanke gemeentes aangestel word nie. Bloot die feit dat daar nog na kleurling- en blanke gemeentes verwys moet word, dui aan dat te veel mense in hul gedagtes nog pre-1994 leef.

Waarom hou die gemeentes nie hul eie verkiesings en raak ontslae van persone wat Jatniel se belange voor die plaaslike gemeente se belange stel nie? Waarom nie aandring op wysiging van SR se konstitusie sodat ‘n gemeente volgens konsensus-besluit sy eie profete mag benoem nie? Die konstitusie neem in elk geval nie die Bybelse opdragte vir die bediening van die profetiese amp in ag nie.
Waarom nie aandring dat voorgangers uit eie geledere as huisouers aangestel word nie, soos deur Paulus aan Timotheus verduidelik?

As Paulus se raad gevolg was, sou Jatniel nooit daarin geslaag het om ‘n pedofiel na Mirteboom te stuur nie. Dan sou die profete in die gemeente gesamentlik die profesie van die “Jatniel profeet” beoordeel het en verwerp het as dit nie die toets deurstaan nie. Dan sou die “Jatniel profeet” lankal druipstert na Jatniel toe teruggejaag gewees het as hy volgehou het met foutiewe en valse profesie. Dan sou die owerspelige of kindermolesteerder wat nog sy lyf profeet wou hou in ‘n gemeente, lankal aan Satan oorhandig gewees het tot verderf van sy vlees, en sodat sy siel en die siele van die gegriefde gemeentelede gered kon word.

Waarom nie probeer om al die reeds afgestigde gemeentes byeen te roep en ‘n verenigde denominasie, onafhanklik van Jatniel, te stig nie? ‘n Denominasie wat die goeie behou, sonder die albatros van apartheid wat na bewering nog om Jatniel se nek hang.

Wat van die gegriefdes in die algemeen?

Soos die Anke geval bewys het, en soos bewerings en berigte uit Europa aandui, is Jatniel nie gretig om by hulpverlening aan gegriefdes betrokke te raak nie. Dit sal in my mond ‘n wrang smaak laat om iemand te dwing om my te help as hy my nie wil help nie.

My raad is dat mense ‘n ondersteuningsnetwerk tot stand bring waar persone die geleentheid gebied word om hul ervarings te deel, advies en goeie raad kan uitruil, en bowenal ‘n hulp-netwerk kan organiseer met professionele beraders wat bystand kan verleen waar nodig. Mense soos Anke, en selfs ander wat ook van sielkundige hulp gebruik gemaak het kan veel help om so ‘n netwerk op die been te bring.

Ek gaan hierdie groep-blad oophou sodat mense idees kan uitruil, en ook om vrae te beantwoord oor vertolking van leerstellings en Bybelkwessies. Indien daar gegriefdes en benadeeldes is wat die blad as forum wil gebruik om hul network uit te brei, is hulle welkom om dit te doen.

Ek doen hoegenaamd nie aan die hand dat persone wat leed of skade aangedoen is, nie die skuldige en die kerk daarvoor aanspreeklik hou nie. Anke is ‘n sprekende voorbeeld van iemand wat na my mening maklik die misdadiger en die kerk vir skade kan aanspreek. Selfs in die verband kan gegriefdes in die netwerk mekaar ondersteun, en van bekwame regslui se dienste gebruik maak om te help met billike regspleging.

Ek kry egter die indruk dat baie mense eenvoudig net die onaangenaamheid agter die rug wil kry, so deeglik moontlik van SR wil vergeet, en aangaan met hulle lewens. Heelwat korrespondente het dit ook so aan my gestel. Die meerderheid mense wat reageer verklaar prontuit dat hulle liefs nie meer in enige verband met SR te doen wil hê nie, al het hulle ook hoe seer gekry. Wees verseker dat daar baie mense is wat begrip het vir so ‘n houding, en julle nie verkwalik nie, en ons gebed vir julle is – Filip 4:7 en die vrede van God, wat elke gemoedstoestand oortref, sal julle harte en julle begrip beleër in die Messias, Jesus.

Wat van ontnugterde persone wat nog in Spade Reen aanbid

Niemand kan na jou ‘n vinger wys, of jou beskuldig van aandadigheid aan enige ongerymdheid waarin jy nie betrokke was nie. As daar van jou verwag word dat jy SR moet verlaat omdat die mense in SR nie volmaak is nie, en omdat daar dalk wrede, growwe vergrype plaasgevind het, en dalk steeds plaasvind, sal jy dan in elk geval hierdie aarde moet verlaat op soek na die volmaakte denominasie, want volmaakte mense, ‘n volmaakte denominasie, en ‘n volmaakte gemeente sal jy op hierdie aarde nie vind nie.

Wees egter gewaarsku, as ‘n misdaad of wetsoortreding teenoor jou uitbely is, is jy verantwoordelik om dit aan die wetstoepassers bekend te maak. Die landswette en ook jou kerk se konstitusie vereis dit van jou.

Skud die valse roem, valse trots, en valse grootmanskap af wat van Spade Reen die “hoogste platform”, die “diepste lig” gemaak het.

“2 Tim 2:22 -- vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ‘n rein hart aanroep. “ Leef nugter en waaksaam sodat die strikke en verleidings van die verlede die gemeentes nie weer oorval nie.

Volg die Bybelse voorskrif vir profesie. Laat nie toe dat een profeet alleen in die gemeente profeteer nie. Dring daarop aan dat twee of drie om die beurt profeteer. Laat die teenwoordiges dit toets en beoordeel, en verwerp dit wat vals is en behou die goeie. Stel uiters streng tugmaatreels in teen ‘n profeet of ander ampsdraer wat nie voorbeeldig lewe nie. Daag oortreders voor die gemeenteraad en stel ‘n voorbeeld van tug en dissipline vir die gemeentelede.

Vermaan en bestraf die wat onreine, onheilige lewens leef en daardeur strikke vir julle vroue en kinders stel. Doen dit in Bybelse opdrag, sonder om skuldig te voel as skynheiliges en onkundiges jou wil belet om te vermaan en te bestraf, omdat jy dan kwansuis “veroordeel.” Die enigste een in jou gemeente vir wie jy moet klippe optel, is die een wat ewe vroom vir jou sê – “ - - laat die een wat sonder sonde is die eerste klip optel.”

Leef in vrede met die wat buite is, lê begrip aan die die dag vir hulle omstandighede, en moet nie met hulle foutvind of hulle veroordeel omdat hulle nie hul pyn en seer soos jy kan verwerk nie. Onthou dat daarin ook valse roem en hoogmoed opgesluit lê.

Stel die gawe en amp van lering voorop, en skuif profetiese amp geheel in die agtergrond, omdat die Woord voltooi is, en omdat julle soos volwassenes daaruit moet leer en leef.

Uitdaging aan Fanie

Fanie, daar is volgens bewerings in sosiale media, in Jatniel en elders verklaar dat jy ‘n ware profeet is, dat jou profetiese uitsprake die woorde van God uit die hemel is, en nie die woorde van ‘n mens nie. Dat jou woorde ja en amen is.

Ek daag jou uit om hierdie bewerings te substansieer deur te bewys dat jy direk die woorde van God uit die hemel spreek, of, indien dit nie die geval is nie, te erken dat jy nie ‘n onfeilbare profeet van God is nie.

Spaar jouself die moeite om my te beskuldig van laster, om my te beskuldig dat ek sondig teen die Heilige Gees en teen God. Of dat ek laster deur God uit te daag.

Ontspan Fanie, ontspan. Ek daag God nie uit nie. Ek weet jy is nie ‘n onfeilbare profeet nie. Ek daag jou uit om die Godslastering te belet, deur die bewerings te repudieer dat jy die woorde van God uit die hemel spreek, foutloos, “ja en amen”. Ek daag jou ook uit om enige persone wat hierdie valsheid in die openbaar verkondig het, in die openbaar te repudieer.

Ja, Fanie, jy behoort mos te weet wanneer is ‘n profeet vals, of wanneer hy laster –
- Wanneer hy voorgee dat al sy woorde direkte woorde van God is en hy weet dit is nie die geval nie
- Wanneer hy weet die Bybel vereis dat sy woorde getoets word, en hy sorg nie dat dit getoets word nie
- Wanneer iemand anders valslik in die openbaar verklaar dat sy woorde direk uit die hemel is, onbetwisbaar, woorde van God, ja en amen, en hy nie die verklarings ontken nie

Latter


Nach oben
 Profil  
Mit Zitat antworten  
 Betreff des Beitrags: Re: Ope brief aan Fanie
Ungelesener BeitragVerfasst: Donnerstag 20. Juni 2013, 19:46 
Offline
Benutzeravatar

Registriert: Montag 10. Juni 2013, 18:47
Beiträge: 34
Kindermolestering –‘n Dringende vraag

‘n Vraag wat van tyd tot tyd opgeduik het, en steeds opduik, gaan oor kindermolestering.

Is Spade Reen bestuur bewus van dade van kindermolestering, dade wat moontlik oor ‘n tydperk van maande, of selfs jare gestrek het, wat teenoor ‘n lid of lede van Spade Reen bestuur uitbely is, maar wat nie aan enige wetstoepasser bekend gemaak is nie?

Dit staan die bestuur natuurlik vry om hierdie vraag van my te ignoreer omdat ek nie ‘n lid van Spade Reen is nie, maar ek skryf in belang van onskuldige persone, lidmate en ander, wie se kinders moontlik op Spade Reen eiendom blootgestel mag word aan die risiko van molestering, omdat die bestuur die teenwoordigheid van selferkende kindermolesteerders geheim hou.

Ek dring nie aan op ‘n antwoord nie, maar ek dink beslis dat Spade Reen bestuur minstens ‘n openbare antwoord aan hulle lidmate verskuldig is, en ook aan besoekers wat van tyd tot tyd Spade Reen eiendom betree.

Latter


Nach oben
 Profil  
Mit Zitat antworten  
Beiträge der letzten Zeit anzeigen:  Sortiere nach  
Ein neues Thema erstellen Auf das Thema antworten  [ 2 Beiträge ] 

Alle Zeiten sind UTC + 1 Stunde [ Sommerzeit ]


Wer ist online?

Mitglieder in diesem Forum: 0 Mitglieder und 5 Gäste


Du darfst keine neuen Themen in diesem Forum erstellen.
Du darfst keine Antworten zu Themen in diesem Forum erstellen.
Du darfst deine Beiträge in diesem Forum nicht ändern.
Du darfst deine Beiträge in diesem Forum nicht löschen.
Du darfst keine Dateianhänge in diesem Forum erstellen.

Suche nach:
Gehe zu:  
cron
Powered by phpBB® Forum Software © phpBB Group
Deutsche Übersetzung durch phpBB.de

Impressum